update


Moot-polisieman tuis doodgeskiet

Polisie voertuig op die toneel waar 'n polisiebeampte Maandagaand by sy huis
doodgeskiet is. Foto: Corlia Kruger
Polisie voertuig op die toneel waar 'n polisiebeampte Maandagaand by sy huis doodgeskiet is. Foto: Corlia Kruger

Corlia Kruger

‘n Senior polisie-offisier van die Moot is Maandag koelbloedig by sy eie huis doodgeskiet.

Die Valke sê luitenant-kolonel Renier Lourens Logois (51) is die aand dood aangetref. Alles dui daarop dat hy in ‘n rooftog om die lewe gebring is.

Logois, hoof van ondersteuningsdienste by Leote polisiestasie, het in Rietondale in die Moot gewoon.

Ondersoekbeamptes het 14 patroondoppies op die toneel gevind. Logois se Toyota Corolla was weg en die vermoede is dat die rowers die voertuig gebruik het om te vlug.

Nog ‘n polisie-offisier, konstabel Mbuyisela James Concoshi, is Maandag vermoor. Hy is in Welkom in die Vrystaat dood op die agtersitplek van sy motor gekry.

Concoshi (34), wat lid was van Welkom polisie se misdaadvoorkoming-eenheid, se voertuig is op die pad tussen Riebeeckstad en Thabong gevind.

Alles dui daarop dat hy verwurg is. Daar was ook wonde aan sy kop.

Beide moordsake word behartig deur die Valke se prioriteitsmisdaad-taakspan, wat spesialiseer in die ondersoek van polisie-moorde.

‘n Taakspan volg reeds leidrade op wat kan lei tot die inhegtenisneming van die verdagte rowers en moordenaars.

Die nasionale hoof van die Valke, lieutenant-generaal Mthandazo Ntlemeza, het die skuldiges in ’n nuusverklaring gewaarsku dat hul name reeds aangebring is op die lys van mees gesoekde misdadigers.

Hy sê die verdagtes sal nie vir lank hul vryheid geniet nie en voorspel dat die Valke se taakspan hul binnekort sal opspoor en aankeer.

“Ons het dit voorheen gesê dat die moord van ‘n polisiebeampte ’n veklaring van oorlog is teen die staat,” sê Ntlemeza.

“Moord op ‘n polisiebeampte is ’n ernstige dreigement teen die sekuriteit van ons land, en ons sal nooit toelaat dat koelbloedige misdadigers oproer veroorsaak nie.

“Ons is op die spoor van die misdadigers – en ons sál hulle vind. Ons is vasbeslote om hulle uit die samelewing te verwyder.”

Vroeër het Rekord berig oor twee ander polisiebeamptes wat binne enkele maande vermoor is.

In Augustus verlede jaar, is konstabel Ronald Baloyi van Ladium-polisie in Atteridgeville doodgeskiet. Twee mense, ’n man en ’n vrou, is kort daarna in hegtenis geneem.

Kaptein Kenneth Poortman van Pretoria is kort voor die nuwe jaar vermoor en vier verdagtes is aangekeer.

Lees ook:

Police officer shot and killed in Moot home

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Latest News

COMMENTS

ptacenturion ptaeast ptanorthgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Foto: Argief
Baba dood in asblik gevind