Vrou herleef angs-aanval in Moot

Corma Du Plessis onthou fyn besonderhede van die aand met die aanval. Foto: Corlia Kruger
Corma Du Plessis onthou fyn besonderhede van die aand met die aanval. Foto: Corlia Kruger

Corlia Kruger

‘n Ma van twee het hierdie week die angs herleef van ‘n onlangse aanval reg voor haar huis in die Moot.

Corma du Plessis (50) vertel hoe twee vreemdelinge haar in lang gras vasgedruk en geslaan het.

Die een het haar aan die nek beetgekry terwyl die ander man die gordel van sy broek begin losmaak het.

Du Plessis het haar nagmerrie-ondervinding met Rekord gedeel in die hoop dat ander daaruit sal leer.

Dit was Dinsdagaand verlede week, vertel Du Plessis, toe sy van vriende af terugry na haar huurhuis in 23e Laan.

“Ek het die motor voor die hek tot stilstand gebring, en soos altyd eers die enjin afgesluit en die motor se deur agter my toegemaak voor ek die hek oopmaak,” vertel Du Plessis.

“Ek het dit ’n gewoonte gemaak om oplettend te wees en ekstra veiligheidsmaatreëls toe te pas om juis seker te maak dat ek nie gekaap word nie.”

Benewens die ligte wat binne die erf geskyn het, was die pad donker.

“Al het ek om my rondgekyk, kon ek niks sien nie,” vertel sy.

“Ek was net besig om die hek oop te maak, toe iemand my van agter gryp.”

Twee vreemde mans het haar hardhandig rondgepluk en na die oop veld oorkant die huis gesleep.

“Hulle het ’n t-hemp opgerol en dit gebruik om my mond toe te maak,” sê Du Plessis.

Sy onthou hoe die een man haar met die vuis in die gesig geslaan het.

“Ek dink hy het my probeer uitslaan,” beweer sy.

Met Du Plessis nog by haar volle bewussyn, het die man haar toe begin wurg.

“Terwyl die een my aangerand het, het die ander man my motor se sleutels geneem en terug na my motor geloop,” sê sy.

“Gelukkig het hy nie geweet van die diefweringstelsel in my voertuig nie, en het die motor begin biep toe hy die verkeerde knoppie druk,”

Du Plessis sê haar aanvaller wat teen dié tyd die gordel om sy broek losgemaak het was nog besig om met haar te stoei, toe hulp opdaag.

“Hy was besig om die knoop van my jeans los te maak toe die eienaar, by wie ek huur, uitkom om te kyk wat aangaan,” vertel Du Plessis.

“Die man in die motor het hom gesien en toe vir die ander (verdagte) in hul taal geskree. Toe vlug hulle.”

Die eienaar van die huurhuis het Du Plessis tot hulp gehaas.

“Ek is so verlig dat hy so tydig uitgekom het. As dit 30 sekondes later was, was dinge dalk nog erger vir my…”

Du Plessis sê Moot-polisie was spoedig op die toneel, maar haar aanvallers was skoonveld.

Hulle het weggekom met haar motor se sleutels en handsak waarin haar beursie, bankkaart, selfoon, kamera en bril was.

“Hulle het alles gegryp wat hulle in die hande kon kry – selfs ’n pakkie sigarette.”

’n Week na die gebeure, vertel Du Plessis, spook die oomblikke van angs steeds by haar.

“Gelukkig het ek ’n wonderlike ondersteuningsgroep hier in die Moot. Al my vriende staan by my en bied aan om te help waar hulle kan.”

Du Plessis sê dit is moeilik om te praat oor die aanval, maar sy wil haar ondervinding deel in die hoop dat dit ’n volgende potensiële slagoffer sal help.

Sy sê die verdagte mans (een lank en een kort) was albei skraal en netjies.

“Dit wil voorkom of hulle opportunistiese kwaaddoeners is, wat toeslaan sodra hul ’n geleentheid sien,” sê sy.

Nog ’n inwoner het vertel dat twee mans wat aan Du Plessis se beskrywing voldoen, vroeër op ’n Facebook-misdaadgroep bespreek is.

Polisie waarsku inwoners om op die uitkyk te bly vir verdagte mense in hul omgewing.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Latest News

COMMENTS

ptacenturion ptaeast ptanorthgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Next Story
use1
Tornadoes: Nature’s hardest weather event to predict