Trok jaag deur erf se heining

Foto: Andrea Küsel
Foto: Andrea Küsel

Omstanders het Maandagmiddag verbaas toegekyk hoe ’n vragmotor vassit in ’n heining rondom ’n erf in die Moot.

Die bestuurder het op die hoek van Codonia- en Walterlaan in Waverley beheer oor die voertuig verloor en in die heining vasgery.

Die vragmotor het tussen dié erf en die bure se oprit tot stilstand gekom.

Volgens ’n ooggetuie het die voertuig in Codonialaan takke opgelaai. Nadat dit in die rigting van Walterlaan weggetrek het, het die vragmotor ’n ander motor getref.

Die eienaar van hierdie motor, Natalie Kruger, sê die groter voertuig het vinnig gery.

“Ek het van onder af gekom in Codonialaan en daar was ’n bus aan die teenoorgestelde kant. Die volgende oomblik sien ek daar kom ’n trok verby die bus reg in my baan in.”

Kruger het uitgeswaai en so ook die vragmotor. Die voertuig het Kruger se motor getref, op die sypaadjie beland en die heining getref.

“My motor is so hard getref dat hy terug die pad in geslinger is,” sê Kruger.

Niemand is beseer nie.

’n Ander swaar voertuig het uiteindelik opgedaag om die vragmotor weg te sleep.

Die voertuig behoort glo aan die Tshwane-metro maar dit kon nie teen die tyd van publikasie bevestig word nie.

 

Latest News

COMMENTS

ptacenturion ptaeast ptanorthgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Photo: Supplied
Young man goes missing