Moot-swembad gesluit

Die Les Marais swembad is groen nadat die filtreerder en pomp van die swembad onklaar geraak het. Foto: Andrea Küsel
Die Les Marais swembad is groen nadat die filtreerder en pomp van die swembad onklaar geraak het. Foto: Andrea Küsel

Andrea Küsel

Moot se munisipale swembed Les Marais in Benitalaan is nou al twee weke lank gesluit weens ‘n onklaar filtreerder en elektriese pomp.

Raadslid van wyk 54, Elmarie Linde, sê die hele Moot-gemeenskap word hierdeur geraak.

“Baie mense koop ’n jaarkaartjie sodat hulle vir die hele seisoen kan swem. Nou moet hulle elders ’n swembad gaan soek.”

Linde sê swemskole ly ook daaronder. Verskeie van hulle bespreek tye en lane by die swembad om swemlesse te kan aanbied. Nou word hulle weggewys.

Sy glo daar is nie genoeg begroot word om die Les Marais-swembad asook ander munisipale swembaddens te onderhou nie.

Toerusting soos die sandfiltreerder is so oud soos die swembad self, wat in 1975 gebou is.

“In die vorige finansiële boekjaar is daar aansoek gedoen om ’n R12,4 miljoen-begroting om die swembaddens te onderhou. Daar is toe slegs R1,4 miljoen toegestaan vir al die swembaddens in die metro.”

Die swembad self is nie die enigste probleem nie. Die terrein se instandhouding gaan ook agteruit. Gras op die perseel staan op plekke amper kniehoogte en die gebou met die ablusiegeriewe kort verf.

Sekuriteit op die terrein is ook ontoereikend om misdade soos motordiefstal in die parkeergebied te voorkom.

Die Tjaart van Vuuren-swembad in Villieria is ook besig om agteruit te gaan.

“Daar word nie aandag gegee aan die swembad se terrein nie,” sê Linde.

“Ons het ’n munisipaliteit wat glad nie voorkomend optree nie. Hulle besef nie die noodsaaklikheid van instandhouding nie en dit lei tot die totale verval, wat die herstelkoste verder opjaag.”

Die metro sê hy ondervind tegniese probleme met beiede swembaddens.

Die adjunk-direkteur van parke, Thamsanqa Ntamo, sê die probleem sal eers in die volgende finansiële jaar hanteer kan word omdat ekstra geld benodig word om herstelwerk te doen.

“Die sluiting van die Les Marais swembad is gedoen om die publiek se veiligheid te verseker en sal nie gebruikers van die swembad soseer beïnvloed nie omdat die somerseisoen amper verby is.”

Ntamo sê die volgende finansiële jaar begin in Julie 2016, en die probleme by die swembaddens sal in daardie maand aangepak word.

Linde stem nie saam nie en sê dat die skoolvakansie om die draai is.

“Baie kinders kom swem hier in die skoolvakansie. Ons probeer die kinders uit die strate hou en nou sal hulle nie hier kan kom swem in die komende skoolvakansie nie.”

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ na breakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Latest News

COMMENTS

ptacenturion ptaeast ptanorthgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top