Melgisedek se dae getel

Ablusiefasiliteite is totaal vervalle. Foto: Corlia Kruger
Ablusiefasiliteite is totaal vervalle. Foto: Corlia Kruger

Die onheilsnes van Melgisedek se dae is dalk getel.

Die burgemeester se woordvoerder, Blessing Manale sê die metro het gewisse planne met Melgisedek.

“Die struktuur is vervalle en kan nie herstel word nie. Ablusiegeriewe is in ’n snoepwinkel en slaapkamers omskep. Daar is ook opgemerk dat daar hoë vlakke misdaad en vandalisme onder inwoners van Melgisedek is,” sê Manale.

“Ons beplan om die gebou te ontruim en ten volle te sluit voor Mei 2016.”

Dit kom ná ondersoeke deur onder meer nooddienste, omgewingsgesondheidsake asook die Tshwane-metropolisie.

Die ondersoek het bevind dat Melgisedek geen elektrisiteit op die perseel het nie en dat kamers oorvol en vuil is.

By dié gebou lê vullis in hope en kinders maak kos op oop vure terwyl ouers op matrasse – of enigiets wat as bed kan dien, lê en slaap.

Dwelmgebruik is algemeen en die Melgisedek-inwoners wat hierdie hul tuiste gemaak het, dryf handel in en gebruik openlik dwelms.

Inwoners in die Riviera-omgewing sê die berugte Melgisedek-gebou bly ’n nes vir onwettige immigrante, prostitute, dwelmhandelaars en misdadigers.

Raadslid Elma Nel sê meer as 550 mense woon op dié perseel.

“Daar is meer as 100 dwelmhandelaars, ten minste 40 sekswerkers en 25 kinders wat in onmenslike omstandighede woon. As ’n stad van uitnemendheid skuld ons dit aan die mense van Pretoria om in beter toestande te lewe.”

Sy sê daar is geen politieke wil om die gebou beter te bedryf nie en intussen vererger die situasie.

“Kinders wat by Melgisedek woon, sien elke dag onwettige bedrywighede soos dwelmgebruik, prostitusie, diefstal en aanranding. Geen kind verdien om aan hierdie onaanvaarbare omstandighede blootgestel te word nie.”

Sy meen ook dat inwoners in die aan­grensende woonbuurte nie veilig in hul huise is nie.

“Hulle word aangeval en hul eiendom verniel as gevolg van diefstal en rooftogte deur hierdie dwelmverslaafdes om hul gewoontes te onderhou.”

’n DA-mosie vir die sluiting van die Melgisedek-gebou is vroeër om tegniese redes verwerp.

Die DA het die mosie aan die Tshwane-raadsvergadering voorgestel wat daarop aandring dat vorige besluite om Melgisedek op te ruim, nou uitgevoer moet word.

Manale het verduidelik dat mosies aan die raad voorgelê word volgens ’n spesifieke prosedure voordat dit dan aan die speaker van die raad voorgelê word.

“Die DA se mosie is nie volgens prosedure voorgelê nie. Die saak is nie met die korrekte skeduleringproses ingedien nie en is ook nie met die komittee van behuising bespreek nie,” sê Manale.

“Dus het ander politiese partye nie voldoende inligting gehad om die mosie te debateer nie.”

Nel wat vir ’n geruime tyd by Melgisedek betrokke is, meen egter dat al die regte kanale gevolg is.

“Die mosie is baie duidelik aan die raad voorgelê en is deur die hoofsweep van die DA asook regspanne goedgekeur.”

hdw

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  • Ons wil hê jy moet altyd weet wat in jou gemeenskap aangaan. Stuur ‘n epos met die woorde ‘Teken aan’ nabreakingnews@rekord.co.za vir jou gratis daaglikse nuusflits.

Latest News

COMMENTS

ptacenturion ptaeast ptanorthgetitlooklocal.co.zaAutodealer.co.za
Top
Recommended Story
Vicky Myburg. Foto: Verskaf
Vermiste vrou dood gevind