Onwettige storting vat weer vlam in Danville

Vier dae nadat die veld skoongemaak was, het onwettige storting weer begin.

Onwettige storting vind weer in Danville plaas ten spyte van die feit dat die area net verlede week skoongemaak is.

Inwoner en Sanco-lid Ricardo Daubern sê hy is op moedverloor se vlakte.

“Ons weet nie meer wat om te doen nie. Dit was nou al die hoeveelste keer wat daar skoongemaak is, maar die onwettige storting gaan net voort,” sê Daubern.

“Ek het selfs al self daar gaan skoonmaak.”

Lees ook: Onwettige storting steeds Moot-kopseer

Daubern en sy gesin woon oorkant die veld waar die onwettige storting plaasvind, in Viviersstraat.

Tot die verligting van nabygeleë inwoners is die veld verlede Donderdag deur munisipale werkers skoongemaak.

Inwoners het gejuig en het die gebaar met ope arms verwelkom.

Daubern sê verlede week was die derde keer wat daar by die veld skoongemaak was, sedert die storting sy kop begin uitsteek het in Oktober verlede jaar.

Lees ook: Onwettige storting gaan voort in Jan Niemandpark

“Die eerste keer wat die veld skoongemaak is, was in Desember. Die tweede keer was in Februarie.”

Daubern sê die onwettige storting is nie net ’n onooglikheid nie, maar gee ook ’n slegte reuk af.

“Ons het verskriklik probleme met vlieë en ander peste wat ons nooit in die verlede gehad het nie.”

Daubern sê gemors wat oorkant hulle huis gestrooi word, wissel van boumateriaal tot vullis.

“Ek het al trokke van prominente besighede gesien wat hulle vullis daar kom weggooi,” sê hy.

Hy het ook sy kommer uitgespreek oor die lang gras in die veld.

“Sluipslapers kan maklik tussen die lang gras wegkruip. Dit is regtig besig om ons veilige hawe te versteur.”

In ’n vorige berig het DA-raadslid Elma Nel haarself uitgespreek oor onwettige storting.

“Mense moet begin verantwoordelikheid neem vir hulle aksies. As ons almal saamwerk kan ons die area skoon, veilig en gesond hou,” het sy gesê.

“Die oomblik wanneer daar ’n oop stuk veld is, word dit gewoonlik ’n area vir onwettige storting.”

Die raadslid van die gebied en die Tshwane-metro kon teen druktyd nie vir kommentaar bereik word nie.

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na editorial@rekord.co.za of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

  AUTHOR
Kayla van Petegem

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Constant water issues in the west