Dubbele Springbok Poens Prinsloo oorlede

Die oud Springbok rugbyspeler en atleet, Poens Prinsloo, is Donderdag aan hartversaking oorlede. Hy was 81 jaar oud.

Prinsloo is een van slegs drie sportmanne in die geskiedenis van Suid-Afrika wat dubbele Springbokkleure in rugby en atletiek kon verwerf. Die ander twee was Attie van Heerden (1920’s) en Jaco Reinach (1980’s). Prinsloo se broer, Maans, het vir die Westelike Provinsie rugby gespeel.

Dié oud polisieman het in 1959 sy Springbokkleure as atleet verwerf toe hy gekies is om Suid-Afrika teen die besoekende span van Wes-Duitsland as paalspringer te verteenwoordig. Hy het in 24 wedstryde vir die Blou Bulle uitgedraf en in 1963 het hy as agtsteman in een toets vir die Springbokke teen Australië op Ellispark gespeel.

Prinsloo was ook ’n baie goeie tienkamp atleet, maar paalspring was sy beste item. Hy was ook die Suid-Afrikaanse paalspring kampioen by meer as een geleentheid.

Josua (Poens) Prinsloo is in 1935 op Piketberg gebore, waar hy as skoolseun reeds in rugby en atletiek uitgeblink het. Hy het Boland kleure in rugby reeds op skool verwerf. Na skool het hy by die destydse Suid-Afrikaanse Polisie aangesluit en sedert sy opleiding by die polisiekollege in Pretoria was hy tot sy dood ’n Pretorianer.  Na sy aftrede het hy in Pretoria-Tuine gewoon.

Op die ouderdom van 28 moes Prinsloo ophou rugby speel weens die feit dat hy ’n hartaanval gehad het. Hy het later in sy lewe steeds hartprobleme en nog verskeie hartaanvalle gehad, maar ná ’n omleidingsoperaise deur die span van die bekende dr. Marius Barnard (broer van die hartpionier, Chris) in Kaapstad, was hy in staat om die hoë ouderdom van 81 te behaal.

Prinsloo se vrou is reeds in 2014 oorlede. Hy word oorleef deur drie seuns, een dogter en twaalf kleinkinders. Hy sal op Donderdag 22 Junie vanuit die NG Kerk Wonderboom Poort begrawe word.

 

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
sport journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
UP-Tuks ensures home Varsity semi-final by beating UWC