Wes-reservoir weer herstel ná vandalisme

Die reservoir in Mountain View. Foto: Kayla van Petegem

Ná drie weke se frustrasies, is die waterreservoir in die weste van Pretoria uiteindelik herstel. Hierdie reservoir in Mountain View is Maandag herstel nadat dit gevandaliseer is.

Dit het lae waterdruk in wyke 1, 54 en 55 veroorsaak. DA-raadslid Elma Nel, wat praat oor haar eie wyk, sê hulle sukkel al die afgelope drie weke met pype wat bars.

“Infrastruktuur in my wyk is tussen 50 en 60 jaar oud,” vertel Nel. Nel sê omdat die infrastruktuur so oud is, bars die pype op ’n gereelde grondslag.

“Wanneer die pype bars is dit redelik maklik hanteerbaar. Munisipale werkers kan uitgaan om dit te herstel,” sê sy.

“Maar in hierdie geval het inwoners vir die laaste drie weke van Vrydagmiddag tot Maandag lae waterdruk ervaar.”

Sy sê almal wat in die drie wyke woon, was geraak daardeur. “Meeste inwoners was woedend, wat verstaanbaar is,” sê sy.

LEES MEER: Herstelwerk begin aan pad van die dood

“Wat hulle nie verstaan het nie was dat die reservoir gevandaliseer is.” Nel sê erge skade was aan die reservoir gerig en die kleppe is ook beskadig. Sy sê wat die saak meer ingewikkeld gemaak het, was dat die reservoir nie aan die Tshwane-metro behoort nie.

DA-raadslid Elma Nel by die reservoir in Mountain View. Foto: Kayla van Petegem

“Die reservoir behoort aan Rand Water, so ons kon nie munisipale werkers uitstuur om dit te gaan herstel nie,” sê sy. Nel sê in só ’n situasie is inwoners geneig om die metro en raadslede te wantrou.

“Daar was spekulasie dat die metro die water met opset gaan toedraai het in ’n poging om waterbeperkings in te stel,” sê sy. “Die metro sal nooit ’n wyk se water met opset toedraai nie. Waterbeperkings word ingestel deur te vra.”

Sy sê die metro het ’n plan in plek om water te reguleer. “Waterverbruik werk volgens ’n skaal – jy betaal vir die hoeveelheid water wat jy gebruik. Hoe meer water jy gebruik, hoe meer word jy belas,” sê sy.

“Die metro pas waterbeperkings toe deur inwoners meer te belas wat baie water gebruik.”

LEES MEER: Tonnel in die weste gesluit vir herstelwerk

Die LUR van infrastruktuur Darryl Moss sê die vandalisme wat aan die reservoir gerig was, is sabotasie.

“Vandalisme en kabeldiefstal is heeltemal buite beheer in Pretoria,” sê hy.

Moss sê burgemeester, Solly Msimanga het ’n spesiale taakmag aangestel om juis hierdie soort misdade te beveg.

Rekord het voorheen berig dat die metro nou ’n beloning van R10 000 aanbied vir inligting wat kan lei tot die inhegtenisneming van kabeldiewe.

Msimanga het gesê hierdie misdaad het die betroubare verskaffing van dienste deur die metro aan gemeenskappe oor die algemeen belemmer. “Hierdie soort misdade ontwrig alles en dwing die metro om onnodige onkoste aan te gaan om dit te herstel,” sê Moss.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

  AUTHOR
Kayla van Petegem

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
Electricity supply upgrade for Lotus Gardens