Pta man in hof vir bedrog en diefstal

Jaco van Tonder. Foto: Verskaf

’n Man wat aangekla word van bedrog en diefstal het verlede Woensdag in die landdroshof verskyn.

Jaco van Tonder (35) is op 12 Oktober deur die Hercules-polisie in hegtenis geneem en is borgtog geweier nadat verskeie soortgelyke voorvalle by die polisie aangemeld is.

Hy bly in polisie aanhouding.

Inwoners van regoor Pretoria wat glo deur Van Tonder ingeloop is, het onlangs met Rekord gepraat.

Een van die slagoffers, Alf Booysen in die weste van Pretoria, sê Van Tonder loop mense al sedert 2012 in.

Booysen is in April vanjaar deur Van Tonder gekul.

“Die storie bly altyd dieselfde,” sê hy.

LEES OOK: Metro ondersoek bedrog onder busbestuurders

Van Tonder plak glo ’n advertensie op potensiële slagoffers se hekke.

“Die nota adverteer dat hy boomslopings en konstruksiewerk doen,” sê hy.

Dié wat Van Tonder skakel, kry ’n kwotasie.

“Dit is gewoonlik die goedkoopste prys. Klink amper te goed om waar te wees,” voeg Booysen by.

Van Tonder vra slagoffers glo vir deposito’s en wanneer dit betaal is, verdwyn hy na bewering soos mis voor die son.

Booysen onthou dat Van Tonder met ’n rits verskonings vorendag gekom het.

“In April vanjaar het hy gesê hy kon nie op die dag uitkom nie, omdat hy ’n maagvirus het,” sê hy.

Van Tonder het glo foto’s van sy medikasie aan Booysen gestuur.

LEES OOK: Papier met waarskuwing keer bedrogspul

“Die pille op die foto was nie eens van toepassing op daardie soort siekte nie,” sê Booysen.

Nog ’n slagoffer, Pieter Barnard van die noorde, beweer dat Van Tonder hom in Mei 2015 gekul het.

Soos Booysen, het hy ook ’n advertensie op sy hek gesien.

“Dit was vir bouwerk,” onthou hy.

Barnard het ’n SMS aan die kontaknommer gestuur.

Van Tonder het daardie selfde aand by sy huis ’n draai gemaak en hy (Barnard) is van ’n kwotasie vir bouwerk voorsien.

Barnard het op 18 Mei ’n deposito van R11 500 betaal.

“Twee dae later het Van Tonder met ’n paar werkers daar aangekom en my heinings begin sny vir die installering van die hek,” sê hy.

Van Tonder se werkers het glo ’n fondasie vir die hek ook begin grawe.

Op Donderdag, 21 Mei het Van Tonder glo gesê dat die hek eers die Maandag geïnstalleer sou word.

’n Bykomende deposito van R2 000 is versoek.

LEES OOK: Take the off-road less travelled

Van Tonder en sy span het die werk toe hervat.

“Ek het met hom gepraat om ’n aanpassing aan die finale plan te maak. Hy het gesê dat dit die totale koste van die projek tot R25 000 sal verhoog en ’n verdere R3 000 is aangevra,” sê Barnard.

Van Tonder het nie weer daar opgedaag nie.

“Van daar af het hy net die heeltyd verskonings gemaak,” sê Barnard.

Die huidige klaers in die saak doen ’n beroep op ander slagoffers van Van Tonder om na vore te kom.

“Dit is tyd dat ons saam staan. Mense soos Van Tonder hoort in die tronk,” sê Booysen.

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

  AUTHOR
Kayla van Petegem

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Black Mercedes spotted fleeing several moot crime scenes