Wes-vleiland vererger daagliks

Onwettige storting by die vuil vleiland in Quaggastraat. Foto: Kayla van Petegem

Omstandighede het drasties vererger by ’n vleiland wat aan ’n woonbuurt in die weste van Pretoria grens.

Rekord het voorheen berig dat onwettige storting en plakkers maar net ’n paar van die kwessies is wat inwoners in Quaggastraat op ’n daaglikse basis met hulle hande in hulle hare laat.

LEES OOK: Moot-spruit bewaring ’n probleem

Een van die inwoners, Brenda Botha sê sluipslapers het sowat drie weke gelede by hulle ingebreek.

“Ek weet nie eens hoe hulle ingekom het nie. Ons het twee honde buite,” sê sy.

“Hulle het selfs die klein hond in die huis uitgedra na buite toe.”

Botha sê die misdadigers het met goedere soos selfone en skootrekenaars ontsnap.

Sy sê die aantal sluipslapers en onwettige storting het vermeerder op die vleiland.

“Ons kan nie meer so lewe nie. In die 30 jaar wat ons al in hierdie huis woon, is dit die ergste wat dit al ooit was,” sê sy.

“Die vleiland het selfs die waarde van ons eiendomme afgebring. Só ons sal nie juis veel vir die huis kry nie. Ons is vasgevange hier.”

Rekord het voorheen berig dat Botha gesê het sy vrees daagliks vir haar lewe.

Sy sê onwettige storters het ongeveer vier jaar gelede die vleiland begin besoedel.

“Nie lank daarna het haweloses vir hulle ’n tuiste gemaak. Prostitusie, laat geraas in die aande en ’n stink reuk het gou gevolg,” sê sy.

LEES OOK: Inwoners van wes informele nedersetting skuif binnekort

Sy sê in die vier jaar sedert die probleem begin kop uitsteek het, het hulle vreeslike goed beleef.

“Hulle het al lyke en fetusse in die vleiland gekry. Party aande hoor ons die geskree van ’n vrou wat dalk verkrag word,” sê sy.

“Ek sidder om te dink wat nog daar gebeur wat ons nie hoor nie.”

’n Ander inwoner, Willien van Rensburg, het voorheen gesê misdadigers het al vele kere probeer om by hulle huis in te breek.

“Ons buurman het al selfs vir hom ’n hoër muur opgerig. My familie wil nie eens meer by my kom kuier nie,” sê sy.

“Ek kan nie eens vir kuiergaste vra om hulle voertuig buite te los nie, want dit sal gesteel wees as hulle terugkom.”

Van Rensburg sê die omstandighede by die vleiland is nie net sleg vir hulle nie, maar ook vir besigheid.

’n Misdaad-aktivis in die gebied, Eric Cordier, sê die probleem is nie net in Quaggastraat nie, maar die hele Pretoria-Wes.

“Van Es’kia Mphahleleweg tot by Transoranjestraat sien ons elke dag dieselfde probleem,” sê hy.

“Ek kla al vir hoeveel jaar, maar dit bly val teen ’n dowe oor.”

Hy sê misdadigers gebruik ook die vleiland om weg te kruip.

“Hulle weet mense gaan hulle nie volg nie omdat hulle siektes kan optel.”

LEES OOK: SOUND CLIP: Wes-vleiland laat inwoners moedeloos

  AUTHOR
Kayla van Petegem

Latest News

COMMENTS

Top
Recommended Story x
SOUND CLIP: Wes-vleiland laat inwoners moedeloos