Inwoners maak spruit skoon

Die rivier was toegegroei onder bosse en riete. Foto: Verskaf

Kilnerpark-inwoners het die afgelope naweek ’n poging aangewend om die spruit op te ruim.

Die spruit is tussen Anna Wilson- en Magdalena Willersstraat geleë.

LEES OOK: DA maak skoon

“Vir meer as ’n jaar het die plaaslike munisipaliteit nie veel aandag aan hierdie spruit gegee nie,” vertel inwoner Ronél Kotzé.

“Buiten die feit dat die gras ontsettend hoog en lank geword het en die wandelpaadjies toegegroei het, het die rivier ook begin toegroei met ongewenste bome en riete.”

Kotzé sê inwoners het vele oproepe en skrywes uit verskeie oorde aan die munisipaliteit gemaak om hulp te vra.

“’n Handjie vol inwoners het met hul enigste toerusting, of selfs net met hulle hande, ingespring en een hele probleemarea aangedurf,” sê sy.

“Die area was maar klein teenoor wat nog gedoen moet word om weer ons paadjies oop te kry.”

Kotzé sê alhoewel hulle pamflette versprei het, het die meeste helpers egter net uit Izaak-, Magdalena Willers- en Anna Wilsonstraat se rigting opgedaag.

LEES OOK: Raadslid maak skoon na vloede

“Elke hand is waardeer – daar was selfs vyf seuns waarvan drie in die laerskool is, wat ook kom help kap het,” vertel Kotzé.

“Ons kon skaars ongeveer ’n agtste van die spruit dek, maar die spanwerk was ongelooflik en wat baie opvallend was, was hoeveel bejaarde mense kom help het.”

Kotzé het saam met mede-inwoners die munisipaliteit gevra om hulle te help soos wat hulle in die verlede gedoen het.

“Verlede Donderdag was hier wel ’n span wat aan die Anna Wilsonstraat-kant bietjie gras gesny het, maar hulle het tot dusver nog nie weer opgedaag nie,” sê Kotzé.

“Ons het ook gevra dat hulle die groot takke en stompe wat ons afgesny het met hul toerusting kom verwyder, aangesien ons nie oor die regte toerusting daarvoor beskik nie.”

Kotzé sê hulle beplan om in die toekoms weer pamflette uit te deel.

Sy hoop dat die hele Kilnerpark-area hulle sal kom ondersteun.

LEES OOK: Centurion maak skoon

Sy vra ook inwoners om aan te sluit by hulle groep.

Kotzé wou spesiaal die Kilnerpark Kwekery bedank.

“Die eienaar het een van sy werkers vir die dag afgestaan en hom met gereedskap toegerus om te kom help.”

  AUTHOR
Kayla van Petegem

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Newly released app to save lives