Centurion wen Pretoria se B-bond interhoër

Die Hoërskool Centurion is volgende jaar ná ’n afwesgheid van twee jaar weer terug in die A-Bond tussen Pretoria se beste atletiekskole, nadat hulle Donderdag se B-Bond byeenkoms op ’n nat baan in die Pilditch stadion gewen het.

Centurion (2461 punte) het hul bure van Hoërskool Eldoraigne (2384 punte), wat in die tweede plek geëindig het, met 77 punte geklop. Nog ’n skool uit die Centurion-omgewing, Midstream College (2280), was derde. Hulle is gevolg deur Hoërskool Overkruin (2062), Hoërskool Pretoria-Noord (2037), Hoërskool Akasia (2016), Sutherland High School (1977) en Wonderboom (1641).

Op die baan is daar ten spyte van gure weer atletiek van baie hoë standaard opgelewer, terwyl die atlete se skoolmaats hulle reg deur die dag aangemoedig het met ’n uitbundige gees op die paviljoen.

Die geografiese ligging van die skole wat in hierdie liga deelneem is besonder interessant, aangesien dit basies as die noorde teen die suide van die stad beskou kan word. Vier van die skole wat deelgeneem het, Midstream College, Hoërskool Centurion, Hoërskool Eldoraigne en Sutherland High School is almal uit die suide (Centurion omgewing) van Pretoria. Die ander vier skole sou die noorde van die stad kon verteenwoordig, aangesien Hoërskool Akasia, Hoërskool Pretoria-Noord en Hoërskool Overkruin almal noord van die Magaliesberg geleë is, terwyl Hoërskool Wonderboom teen die hang van dié berg op die grens tussen die noorde en die Moot-area geleë is.

Die byeenkoms is op uitstaande wyse deur Midstraem College gereël en aangebied. Hulle puik organisasie en hantering van die byeenkoms verdien ’n spesiale pluimpie, veral weens die feit dat die program seepglad kon verloop ten spyte van die moeilike omstandighede weens die gure weer.

Nadat die Pretoria C-bond interhoër Dinsdag afgestel moes word weens aanhoudende reën en ’n gevaarlike nat baan, was daar vooraf ook vrese dat die B-Bond byeenkoms dieselfde lot sal tref. Hoewel die byeenkoms in swaar bewolkte weer begin het en daar later wel sagte sifreën uitgesak het, was die baan egter veilig en die atletiek kon voortgaan.

Rondom middagete het die reën swaarder begin uitsak, maar die program het steeds voortgegaan. Die organiseerders het wel probeer om tyd te wen ten opsigte van die baanitems in geval die reën te swaar word om voort te gaan. Hulle het ook goed daarin geslaag en die aksie was op een stadium sowat 45 minute voor die aangewese tyd. Gelukkig was al die hekkies-items afgehandel toe die baan nog redelik droog was en net 100m naellope, 400 meter items en aflosse moes in swaarder reën op die baan plaasvind.

 

https://youtu.be/86VYuQKp17w

https://youtu.be/Ie6C_ACuyug

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
sport journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
UP-Tuks wins seventh USSA title