Tuks skrik eers, verniel Ikeys dan in tweede helfte

Na ’n wankelrige begin en drie drieë teen die die verloop van spel vir Ikeys, het Tukkies Maandagaand op hul tuisveld mooi herstel om die Kapenaars uiteindelik ordentlik pakslae te gee.

Tukkies het baie belowend begin, maar kon in die eerste paar minute nie afrond nie, hoewel hulle gevaarlik naby die doellyn gekom het.

Die Ikeys se taktiek om die tempo van die wedstryd op te jaag het skynbaar aanvanklik vir hulle gewerk. Tukkies het ’n paar keer kleigetrap en die Kapenaars het die foute uitgebuit om drie keer te gaan druk in die eerste halfuur van die wedstryd.

Haker Cuan Hablutzel het binne ses minute twee keer gaan druk. Eers het hy ’n skop van Tuks se heelagter, Divan Rossouw, afgestorm en die bal toegeval. Ses minute later was dit Hablutzel wat kon afrond na ‘n lynstaan dryfbeweging.

Tuks het op daardie stadium nog kalm gelyk, maar toe die woelige agtsteman, Nyasha Tarusenga, ’n teenaanval wat diep in die besoekers se eie kwartgebied begin het afrond vir nege punte, was daar effense paniek onder die Tuks manne.

Hoe harder hulle probeer het om die agterstand so gou moontlik uit te wis, hoe meer foute het Tukkies gemaak. Daarbenewens het die Kapenaars hul naam gestand gedoen en soos tiere verdedig. In die proses was hulle egter oorywerig by die afbreekpunte en hulle moes duur daarvoor betaal met twee geelkaarte in die laaste tien minute van die eerste helfte.

Tukkies kon hierdie voordeel uitbuit met twee mooi drieë en teen rustyd het sake effens beter gelyk met die telling op 23-12 in die besoekers se guns.

Tuks het in die tweede helfte netjies herstel van hul aanvanklike gesukkel om die manne van Kaapstad te oorheers.  Hulle het die bal beter beskerm en hul kanse begin gebruik, wat beteken dat die telbord ook aan die rol gebly het.

Die druk wat Tukkies veral in die skrums op Ikeys toegepas het was soms vir die besoekers te veel om te hanteer. Hulle moes noodgedwone die reëlboek begin uitdaag om te probeer oorleef, maar dit het hulle duur te staan gekom. Die twee geelkaarte én twee strafdrieë in die tweede helfte was die gevolg van hierdie negatiewe taktiek.

Tuks het uiteindelik vyf onbeantwoorde drieë in die tweede helfte aangeteken, wat die twee strafdrieë ingesluit het. Na die aanvanklike ongemaklike situasie van ’n 0-23 agterstand het die Pretorianers dus mooi herstel en gewys dat hulle oor die nodige karakter beskik om wel vanjaar weer by ’n eindstryd in die gesogte toernooi uit  te kom.

 

PUNTEMAKERS:

TUKKIES: 51 Drieë: André Warner, Sibahle Maxwane (2), Toko Maebane, Strafdrie (2), Tinus de Beer. Doelskoppe: Tinus de Beer (5), Josh Stander (1).

UCT IKEYS: 23  Drieë: Cuan Hablutzel (2), Nyasha Turusenga. Doelskoppe: Lohan Lubbe (3)

Skeidsregter: Vusi Msibi

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 072 435 7717.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

  AUTHOR
Koos Venter
sport journalist

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Cosatu calls rugby protest off despite match not being televised live