Stink spruit slaan asems weg in die weste

Inwoners beweer die vuil spruit het mense al siek gemaak. Foto: Kayla van Petegem

’n Vuil spruit in die weste van Pretoria laat Booysens-inwoners op moedverloor se vlakke.

Die verskriklike reuk, afkomstig van die stormwaterstroom, wat oor die omgewing hang pla steeds en inwoners kla dat die reuk veral in die aand en vroeë oggend bykans ondraaglik is.

Inwoners beweer selfs dat mense al van die spruit siek geword het.

Sedert Rekord omtrent drie jaar gelede oor die probleem berig het sê inwoner, Amanda Biljoen, dat die probleem vererger het.

Biljoen sê onwettige storting het ook sy kop begin uitsteek in die veld waardeur die spruit loop.

Die spruit, wat afkomstig is van die Apiesrivier, vloei agter die inwoners se huise tot by die Bon Accorddam.

“Die stroom ruik baie sleg. Somtyds kry ons die reuk van ’n rioolplaas ander kere ruik dit soos gas,” sê Biljoen.

“Dit stink só dat ons ons deure in die aand moet toemaak. Somtyds is dit so erg dat ons nie eers kan eet nie.”

Biljoen sê sy verstaan nie hoe die probleem so lank kon aanhou nie.

“Die water vloei reguit in die Bon Accorddam in wat later omskep word in drinkwater,” sê sy.

Biljoen is die eienaar van die Kleintreetjies-kleuterskool in Beaconstraat.

LEES OOK: Inwoners maak spruit skoon

“Ek het al soveel kinders verloor as gevolg van die spruit. Ouers wil nie hê hul kinders moet rondom die slegte reuk wees nie,” sê sy.

“As gevolg daarvan verloor ek ’n groot deel van my inkomste.”

Biljoen sê meeste inwoners in die gebied kla ook oor die spruit.

“Ek dink die slegte reuk word deur stilstaande water veroorsaak,” sê inwoner, Elsie Conradie.

“Die stilstaande water gee ook aanleiding tot muskiete en goggas.”

’n Ander Pretoria-Wes-inwoner wat ook help om misdaad te bekamp, Eric Cordier, sê: “Skelms gebruik die spruit om weg te hardloop. Hulle weet mense gaan hulle nie volg nie omdat hulle siektes kan optel.”

Cordier stel voor dat ’n heining opgerig moet word.

Biljoen sê: “Ons probeer die oorsaak van die probleem opspoor, maar ons weet nie wie verantwoordelik vir die reuk is nie.”

Sy sê dat sy die probleem so gou as moontlik opgelos wil hê, voordat dit nog inwoners in die omgewing omkrap.

In ’n vorige berig het ’n inwoner gesê: “Ek woon ’n blok van die spruit af en die reuk is verskriklik van die aand regdeur tot die oggend.”

Die reuk pla inwoners al vir jare en niemand doen iets om hulle te help nie.

Biljoen sê sy is in kontak met DA-raadslid van wyk 55, Frik van Wyk.

Van Wyk het Donderdag aan Rekord vertel dat hy bewus is van die spruit en besig is met verdere ondersoek om die oorsaak van die reuk te bepaal.

LEES OOK: Vrou se lyk gevind in spruit

“Ek is in kontak met die LUR van gesondheid en hy het gesê dat hy ’n besoek sal gaan aflê om die oorsaak van die probleem op te spoor,” sê Van Wyk.

Die Tshwane-metro het teen druktyd geen kommentaar gelewer nie.

Die vuil spruit. Foto: Kayla van Petegem

Inwoners beweer die vuil spruit het mense al siek gemaak. Foto: Kayla van Petegem

“Die water vloei reguit in die Bon Accord dam in wat later omskep word in drinkwater.” Foto: Kayla van Petegem

Onwettige storting in die veld. Foto: Kayla van Petegem

Inwoner Amanda van Biljoen. Foto: Kayla van Petegem

Amanda van Biljoen. Foto: Kayla van Petegem

Amanda van Biljoen. Foto: Kayla van Petegem

 

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

 

  AUTHOR
Kayla van Petegem

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Pta murder accused to return to court later this year