Onwettige storting in Jan Niemandpark nog nie uitgeroei

Onwettige storting op die veld. Foto: Kayla van Petegem

Dit blyk dat onwettige storting in Jan Niemandpark onder beheer is.

Volgens ’n besigheidsman in die gebied, Cassie du Preez, word die veld van tyd tot tyd skoongemaak.

Du Preez se besigheid is reg oorkant die veld wat aan Angelo-, Lanham- en Suikerbekkiestraat asook Stormvoëlweg grens.

“Dit lyk nie of daar ’n permanente oplossing in die stadium in plek is nie, want hulle [die metro] stop nog nie die mense wat aanhou rommel weggooi nie,” sê Du Preez.

“Hopelik sal hulle wel spoedig ’n plan van aksie kry.”

Du Preez het in ’n vorige berig gesê: “Ek wens daar kan ’n kennisgewingbord opgerig word wat vir onwettige storters die boetes uitwys vir onwettige storting.”

“Dalk sal hulle twee keer dink voordat hulle ons voorstoep besoedel.”

Die veld was vir die eerste keer in Februarie hierdie jaar skoongemaak, maar storting het slegs twee weke nadat dit skoongemaak is, voortgegaan.

“Die storters voel vere. Terwyl die munisipaliteit besig was om die gras te sny, het die storting maar net bly voortgaan asof dit so hoort,” het Du Preez in ’n vorige berig gesê.

LEES OOK: OPVOLG: Onwettige storting gaan voort in Jan Niemandpark

“Mense wat die vullis in die veld stort, staan tou soggens om hul vullis te kom weggooi.”

Onwettige storting op die veld het ander inwoners ook op moedverloor se vlakte.

In ’n vorige berig het ’n ander inwoner, Ansie, (wat nie haar van wou gebruik nie) vertel dat die onwettige storting op dié veld al vir meer as ses maande aan die gang is.

’n Derde inwoner, Susan Booyse, het aan Rekord vertel dat van die storters van bekende besighede af is en dat hulle die rommel aan die brand steek sodra hulle klaar gestort het.

“Ons kry haglike reuke as gevolg van karkasse wat daar gestort word,” het Booyse gesê.

Booyse het vertel dat die veld ’n gebied geraak het vir onsmaaklike aktiwiteite.

“Die vullis trek sluipslapers aan wat deur die vullis grawe. ’n Ander ding is, hulle kruip in die veld weg. Daar is soveel rook wat veroorsaak word deur die brande, dat ons nie eens in ons eie huise kan asemhaal nie.”

Ansie het gesê: “Ons mense is siek en sat vir die onwettige storters. Nie net is dit ’n oogseer nie, maar dit bedreig ons eens veilige hawe.”

Du Preez sê: “Die storting vind so naby aan die straat plaas, daar is ’n slegte reuk wanneer die wind in ons rigting waai.”

LEES OOK: Onwettige storting steeds Moot-kopseer

’n Ander inwoner Elsie Kidson, wat kla oor ’n leë huis in Tortelduifstraat, sê die sluipslapers wat die huis oorgeneem het van die veld afkomstig is.

Die Tshwane-metro kon nie vir kommentaar bereik word nie.

Onwettige storting op die veld. Foto: Kayla van Petegem

Besigheidsman Cassie du Preez.

Onwettige storting op die veld. Foto: Kayla van Petegem

Onwettige storting op die veld. Foto: Kayla van Petegem

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

Besoek ook ons FacebookTwitter en Instagram blaaie.

 

  AUTHOR
Kayla van Petegem

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
BREAKING NEWS: Oscar rushed to hospital