Villieria-polisie maak weer skoon

Die sleutels wat tydens die skoonmaak-operasie opgetel is. Foto: Verskaf

Die Villieria-polisie het verlede week nog ’n suksesvolle skoonmaak-operasie in die Moot geloods.

Polisiewoordvoerder Kaptein Coba Brits sê die polisie het verlede Donderdag gehelp om die probleemkolle te takel.

“Ons het rommel verwyder en ook die gebied gemonitor,” vertel sy.

“Die gebiede wat ons skoonmaak, is gewoonlik dié waar misdaad hoog en baie besoedel aangetref word,” sê Brits.

Die fokus was op die hoek van Codonialaan en Hertzogstraat; die Steadlaan-brug; Starkeylaan; Codonialaan; Cunninghamstraat; 32ste Laan; en die Pieter Humanpark.

Brits sê dat sleutels tydens die skoonmaak-operasie opgetel is.

Sy vra dat die eienaars die polisie moet skakel indien dit hulle sleutels is.

LEES OOK: Villieriapolisie bring verligting vir organisasies

“Ons vermoed dat die sleutels gesteel is tydens ’n inbraak.”

Sy sê ook dat die gebiede al baie verbeter het wat betref sluipslapers en onwettige stortings.

“Ons is baie bly om te sien dat hierdie gebiede in stand gehou word,” sê sy.

Sy voeg egter by dat Starkey Laan steeds ’n misdaadsone bly.

“Ons ervaar ’n groot probleem met sluipslapers op die hoek van Codonia- en Starkeylane, maar omdat meeste van hulle al baie oud is kan ons hulle nie verwyder nie. As ons hulle verwyder, waarheen gaan hulle gaan?” sê sy.

Brits sê dat hierdie sluipslapers mekaar dikwels aanrand, moles onder mekaar maak en verbygangers teister.

“Alhoewel ons hulle nie kan verwyder nie, hou ons steeds ’n ogie.”

LEES OOK: Villieriapolisie en hoërskool maak Moot skoon

Sy sê sedert konstruksie by ’n nuwe gebou begin het, die probleem nie meer so erg is nie.

“Die mure van die nuwe gebou is al opgerig en dit hou reeds die sluipslapers van die stuk oop grond af.”

Brits bedank almal wat die polisie tydens die skoonmaak-operasie gehelp het.

“Hierdie is die vierde suksesvolle skoonmaak-operasie hierdie jaar,” sê sy.

“Baie dankie aan al die inwoners wat misdaad aan ons rapporteer. Saam maak ons ’n groot verskil.”

LEES OOK: Villieriapolisie loods sigbare operasie

Het jy dalk meer inligting rakende dié storie? Stuur gerus vir ons ‘n epos na [email protected] of skakel ons by 083 625 4114.

Vir jou daaglikse gratis gemeenskapsnuus, besoek Rekord se webwerwe:

Rekord Oos

Rekord Noord

Rekord Centurion

Rekord Moot

  AUTHOR
Kayla van Petegem

Latest News

COMMENTS

Top
Next Story x
Loving Moot businessman (66) dies